Hoeveel word jy betaal? Moenie hardop antwoord nie. Maar sit ’n syfer in jou kop. Nou, hoeveel dink jy word die persoon langs jou betaal? Weereens, moenie hardop antwoord nie. (Gelag) By die werk, hoeveel dink jy word die persoon in die afskorting of by die lessenaar langs jou betaal? Weet jy? Behoort jy te weet? Let op, dis selfs effens ongemaklik vir my om jou hierdie vrae te vra. Maar erken dit -- jy wil so half weet. Die meeste van ons is ongemaklik met die idee om ons salaris uit te saai. Ons moenie ons bure vertel nie en ons moet beslis nie ons bure by die kantoor vertel nie. Ons neem aan die rede is dat as almal weet wat almal anders betaal word, sal die duiwel los wees. Daar sal stryery en bakleiery wees, ’n paar mense sal dalk selfs bedank. Maar sê nou geheimhouding is eintlik die rede vir al daai getwis? En wat sal gebeur as ons daardie geheimhouding wegvat? Wat as openheid eintlik die sin van regverdigheid en samewerking in ’n maatskapy versterk? Wat sou gebeur as ons totale salaris-deursigtigheid gehad het? Oor die laaste paar jaar het ek dié korporatiewe en ondernemingsleiers bestudeer wat die konvensionele wysheid oor hoe om ’n maatskapy te bestuur, bevraagteken. En die vraag oor betaling kom aanhoudend ter sprake. En die antwoorde verras aanhoudend. Dit blyk dat salaris-deursigtigheid -- om salarisse openlik in ’n maatskapy te deel -- ’n beter werkplek vir beide die werknemer en vir die organisasie maak. As mense nie weet hoe hul salaris met hul gelykes s’n vergelyk nie is hulle meer geneig om onderbetaal en dalk selfs teen gediskrimineer te voel. Wil jy by ’n plek werk wat toelaat dat jy onderbetaal en teen gediskrimineer voel? Maar om salarisse geheim te hou doen presies dit, en dis ’n praktyk so oud soos wat dit algemeen is, ten spyte daarvan dat in die VSA die wet ’n werknemer se reg om sy salaris te bespreek, beskerm. In een beroemde voorbeeld van dekades gelede het die bestuur van die tydskrif Vanity Fair sowaar ’n memo rondgestuur met die titel: "Belet op bespreking onder werknemers van salaris ontvang." BELET op bespreking onder werknemers van salaris ontvang. Almal het wel nie daai memo aanvaar nie. New York literêre figure Dorothy Parker, Robert Benchley en Robert Sherwood, almal skrywers in die Algonquin Round Table, het vir deursigtigheid opgestaan en is die dag daarna werk toe met hulle salarisse op bordjies geskryf en om hulle nekke gehang. (Gelag) Verbeel jou jy kom by die werk met jou salaris sommer op jou bors geskryf vir almal om te sien. Maar hoekom wil ’n maatskapy salarisbesprekings ontmoedig? Hoekom stem party daarmee saam terwyl ander daarteen wil opstaan? Dit blyk dat buiten die aangenome redes salaris-geheimhouding eintlik ’n manier is om baie geld te spaar. Sien, om salarisse geheim te hou lei tot wat ekonome "inligting-asimmetrie" noem. In só ’n onderhandelingsituasie het een party hope meer inligting as die ander een. En in besprekings oor aanstellings, bevorderings of jaarlikse vehogings kan ’n werkgewer dié geheimhouding gebruik om baie geld te spaar. Dink net hoeveel beter jy vir ’n verhoging sou kon onderhandel as jy geweet het wat almal verdien. Ekonome waarsku dat inligting-asimmetrie markte kan laat skeefloop. Iemand los ’n salarisstrokie op die fotostaatmasjien, en skielik skree almal op mekaar. Hulle waarsku selfs dat inligting-asimmetrie tot ’n totale markmislukking kan lei. En ek dink ons is amper daar. Dis hoekom: Eerstens het meeste werknemers geen idee hoe hul salaris vergelyk nie. In ’n 2015-opname van 70 000 werknemers het twee derdes van almal wat die marktarief betaal word gesê hulle voel onderbetaal. En uit almal wat gevoel het hulle word onderbetaal, het 60% gesê hulle beplan om te bedank, ongeag of hulle onderbetaal, oorbetaal of presies die marktarief betaal word. Wat sou jy in hierdie opname gesê het? Word jy onderbetaal? Wel, wag -- hoe weet jy eers? Want jy mag nie daaroor praat nie. Volgende, inligting-asimmetrie, salaris-geheimhouding, maak dit makliker om die diskriminasie te ignoreer wat reeds vandag in die mark teenwoordig is. In ’n 2011-verslag van die Institute for Women's Policy Research was die salarisgaping tussen mans en vroue 23%. Dit is waar daardie 77 sent op die dollar vandaan kom. Maar in die Federale Regering, waar salarisse op sekere vlakke vasgestel is en almal weet wat dié vlakke is, krimp die salarisgaping tussen geslagte na 11%, en dit vóór gekontrolleer is vir enige van die faktore waaroor ekonome stry om te kontrolleer of nie. As ons die salarisgaping tussen die geslagte wil oorbrug, moet ons dalk begin om die loonlys oop te maak. As dit is hoe totale markmislukking lyk, dan bly openheid die enigste manier om regverdigheid te verseker. Ek besef dat om mense te laat weet wat jy verdien dalk ongemaklik mag voel, maar is dit nie minder ongemaklik as om altyd te wonder of jy teen gediskrimineer word nie of of jou vrou of jou dogter of jou suster onregverdig betaal word nie? Openheid bly die beste manier om regverdigheid te verseker en salaris-deursigtigheid doen dit. Dis hoekom korporatiewe en ondernemingsleiers al vir jare met dié aspek van salarisse eksperimenteer. Soos Dane Atkinson. Dane is 'n reeks-entrepreneur wat baie maatskapye met geheime salarisse begin het, en hy't dit selfs gebruik om twee mense met dieselfde kwalifikasies dramaties verskillend te betaal, afhangend van hoe goed hulle kon onderhandel. En Dane het die twiste gesien wat as gevolg hiervan ontstaan het. So toe hy sy nuutste maatskapy, SumAll, gestig het, het hy hom van die begin af aan salaris-deursigtigheid gewy. En die resultate is merkwaardig. En in studie op studie, as mense weet hoe hulle betaal word en hoe dit met hul gelykes vergelyk, is hulle meer geneig om hard te werk om beter te presteer, meer geneig om betrokke te wees en minder geneig om te bedank. Dis hoekom Dane nie alleen is nie. Van nuwe tegnologie-maatskapye soos Buffer, tot die tienduisende werknemers by Whole Foods, waar nie net jou salaris beskikbaar is vir almal om te sien nie, maar die prestasiedata vir die winkel en vir jou departement op die maatskapy se intranet beskikbaar is, vir almal om te sien. Nou, salaris-deursigtigheid neem baie vorme. Een grootte pas nie vir almal nie. Party maak hul salarisse bekend vir almal om te sien. Party hou dit binne die maatskapy. Party maak die formule om salarisse uit te werk bekend. Ander maak die salarisvlakke bekend en heg almal aan hulle vlak. So jy hoef nie bordjies te maak vir al jou werknemers om in die kantoor te dra nie. En jy hoef nie die enigste een te wees wat ’n bordjie dra wat jy by die huis gemaak het nie. Maar almal kan groter stappe na deursigtigheid neem. Vir dié van julle wat die gesag het om vooruit te beweeg na deursigtigheid: dis tyd om vooruit te beweeg. En vir dié van julle wat nie die gesag het nie: dis tyd om op te kom vir jou reg daartoe. So hoeveel word jy betaal? En hoe vergelyk dit met die mense saam met wie jy werk? Jy behoort te weet. En hulle ook. Dankie. (Applous)